Inwoners sing en kuier saam tydens musiekfees

Pieter Smith het die gehoor vermaak met sy kitaarvaardighede en 'n nostalgiese reis deur dekades se top Afrikaanse liedjies.

MALALANE – Gemeenskapslede het verlede Saterdagaand saam met sangers Pieter Smith and Altus Theart gesing en dans, als ten bate van twee van die gemeenskap se spesiaalste dogtertjies.

Die Lyonell en Lareine Musiekfees is gereël om fondse vir die mediese behandeling van Lyonell Coetzee en Lareine Carstens, in te samel.

Lyonell het ‘n vorm van serebrale verlamming en sukkel om te beweeg en het dus spesiale toerusting en verskeie behandelings nodig om seker te maak dat sy normal ontwikkel.

LEES: Little ray of sunshine raises awareness

Lareine het Prader-Willisindroom, wat veroorsaak dat sy altyd honger voel. Sy moet ook deur dokters en terapeute bygestaan word om met huidige en moontlike spier-, eet- en gedragsprobleme te help.

LEES: Fondse nodig om dogtertjie te help kommunikeer

Daar is van laatmiddag af saamgekuier, met ‘n snoepie, kroeg en kuierhoekie wat heerlike eetgoed en koue drankies verskaf het.

Gesinne het saam by tafels voor die verhoog ingeskuif of ‘n gemaklike plekkie by die rye stoele gekry vir Altus Theart se optrede.

Altus Theart

Die kunstenaar, bekend as akteur in flieks soos Bakgat en die sepie, Getroud met Rugby, het ‘n baie veelsydige vertoning gelewer.

Van Queen tot Country met ‘n bietjie Ed Sheeran en Robbie Williams tussenin het gaste laat saamsing of sokkie.

‘n Paar dapper siele het ook ‘n sluk Jack Daniels uit die bottle gaan neem toe Altus dit as deel van ‘n promosie uitgedeel het.

‘n Veiling is tydens die pouse en ná Pieter Smith se optrede gehou waar gaste hulle hande diep in die sakke gesteek het vir onder meer, naweek-wegbreke, geskenkpakke en Buffelsfontein Baardolie-produkte.

Altus Theart, Esmeri Coetzee en Philni Coetzee tydens die veiling.

Pieter het daarna ‘n energieke en komiese optrede gelewer en met sy wonderlike kitaarvaardighede en veelsydige sangtalent spoedig die hele gehoor aan sy lippe laat hang.

Hy het begin met ‘n lekker-dans- countryliedjie, gevolg deur “Rooiwyn”, ‘n lied wat hy saam met Die Broers opgeneem het, en Louis van Rensburg se “Voshaarnooi”.

Pieter Smith

Daarna het hy sy treffer “Blomme” vir ‘n vroutjie wat verjaar het, op versoek van haar man, gesing.

Pieter het die gehoor op ‘n nostalgiese reis deur Afrikaanse musiek geneem met liedjies soos “Trein na Pretoria”, “Jan, asseblief tog, squeeze my” en “Oukraalliedjie”, asook treffers deur kunstenaars soos Al Debbo, Laurika Rauch en Anton Goosen, in hulle styl en stemme.

Almal het ook saamgesing met Carike Keuzenkamp se “Die Lappop” en Pieter het die samesang laat aangaan met temaliedere van ou TV-programme soos Haasdas se Nuuskas, Brakenjan en Vyfster.

Gaste het uitbundig op “Stukkie van der Merwe” gedans voordat die Carstens en Coetzees vorentoe genooi is vir die laaste liedjie. Gaste het mekaar omarm en hartlik met “You raise me up” saamgesing, wat aan die gesinne se twee “engeltjies” opgedra is.

Die organiseerders en families van Lyonelle en Lareine bedank graag al die borge, helpers en gaste vir hulle wonderlike ondersteuning en bydraes.

  AUTHOR
Retha Nel

Latest News

COMMENTS

Top
Next Story x
Nature reserve workers to zip around on bicycles