Komatipoort Akademie beloon 2017 se uitblinkers

Die onderhoof, mnr. Stephan du Plessis en Izel Potgieter.

KOMATIPOORT – ‘n Hele paar uitblinkers het Maandagaand met arms vol trofeë en stapels sertifikate Komatipoort Akademie se saal na die prysuitdeling verlaat.

Die gr. 8 tot 12 leerlinge is tydens die geleentheid voor vriende en familie vir hulle harde werk die afgelope jaar op akademiese en sportgebied beloon.

Ds. Gert Erasmus het die aand geopen en leerlinge aangemoedig om hul lewensuitkyk te verander. “Wanneer jy geleer het om tevrede te wees met jou omstandighede, dan blom jy waar God jou geplant het,” het hy aan die presteerdeers vertel.

Die skoolhoof, mnr. Ormond Lombard, het die ouers en kinders gelukgewens met die suksesse wat die aand uitgelig sou word. “Hou die blink kant bo, bly positief. Vanaand is die eerste stap om die wêreld te wys waarvan jy gemaak is,” was sy woorde van wysheid.

In gr. 8 het Zarlia Bester die toekennings vir beste vordering en ambassadeur ontvang. Henk Davel het die beste vordering in gr. 9 getoon, Tayla-Ann Clark is as ambassadeur gekies en die dux-toekenning vir gr. 7 tot 9 het aan Reghardt Maritz gegaan.

In gr. 10 het Thristen Smit die beste vordering getoon en Tanja Theunissen is as beste presteerder aangewys. WG Engelbrecht is as die graad se ambassadeur gekies.

Princess Mathumbu was die gr. 11-leerling wat die beste vordering in die graad getoon het en Paulo Goncalves was die beste presteerder en ambassadeur.

Die hoof, mnr. Ormond Lombard wens Paulo Goncalves geluk.

Gr. 12 se beste presteerder was Charissa Stander en Glen Khoza is met die toekenning vir beste vordering vereer. Izel Potgieter is as ambassadeur verkies. Charissa Stander is as die dux-leerling aangewys.

Verskeie leerlinge het ook erekleure vir sport en kultuur verwerf vir hul buitemuurse prestasies.

Dané Horn het die trofee vir die beste prestasie in eisteddfod: musiek en die beste prestasie eisteddfod: veelsydigheid ontvang. Izel Potgieter het die Marian du Plessis-trofee vir die hoogste individuele prestasie vir ‘n individuele item verwerf.

Tydens die sporttoekennings het Izel ook die toekenning vir sportdogter van die jaar en beste hokkiespeelster en WG Engelbrecht vir sportseun van die jaar en beste tweekampatleet ontvang.

Natasha Brown is as beste meisiesatleet aangewys. Emil Dorey was die beste seunsatleet en beste hokkiespeler. Nobuhle Sibisi het die toekenning ontvang vir netbalspeelster van die jaar.

Glen Khoza is as rugbyspeler van die jaar gekies, Adriaan du Plessis as krieketspeler, Jessica Muller as skaakspeler en Paulo Goncalves as swemmer en best tennisspeler. Zhané Norval was beste tennisspeelster van die jaar.

Me. Anette Prinsloo wens Glen Khoza geluk.

Adriaan du Plessis en Zharné Cillier is as gholfspeler en -speelster van die jaar aangewys.

Die laaste toekenning van die aand was die hoof se toekenning, wat aan Charissa Stander gegaan het. Lombard het met trots kortliks gesels oor Charissa, wat sedert gr. 1 in die skool was, en haar pragtige gesindheid en diensbaarheid.

Lombard het ter afsluiting die nuwe hoofleiers vir 2018 aangekondig. Die onderhoofseun is Xander Swanepoel en -dogter, Tanielle Jordaan. Die hoofseun en -dogter is Paulo Goncalves en Chantoné van der Merwe.

Nuwe hoofleiers onderhoofseun Xander Swanepoel, onderhoofdogter Tanielle Jordaan, hoofdogter Chantoné van der Merwe en hoofseun Paulo Goncalves.

Sien meer foto’s van die presteerders hier.

  AUTHOR
Retha Nel

Latest News

COMMENTS

Top
Recommended Story x
Komatipoort se beste presteerders word aangewys