Selati Rolbaltoernooi na 33 jaar steeds gewild

Rolbalspelers van heinde en verre besoek Malalane elke jaar in Augustus vir die Selati Rolbaltoernooi. Hier is vanjaar se groep deelnemers.

Danksy interessante uitrustings, prettige manewales en goeie spel was vanjaar se Selati Rolbaltoernooi weereens ‘n sukses.

Die toernooi word al vir 33 jaar aangebied en is uiters gewild onder rolbalspelers van klubs regoor die land. Die baan in Malalane was weer vol, met 60 spelers en hulle gades van ondermeer, Lekkerbreek, Irene, Reitz, Bethlehem, Mbombela en Lydenburg.

Annetjie Moller van Lydenburg.

Die toernooi het verlede Maandag begin, met ‘n tentdorp wat reeds langsaan verrys en vir ‘n gesellige atmosfeer op en van die baan af gesorg het.

LEES: Rolbalspelers van regoor SA kuier saam by Selati Toernooi

Deelnemers het elke dag tot Saterdag-oggend ‘n paar rondes gespeel om punte te verdien. Woensdagoggend vir ontbyt het almal sportklere met ‘n ondeunde kinkel aangetrek, wat groot pret tot gevolg gehad het. Die vrolike dag is met ‘n braai by die Krokodillapa afgesluit en daar is ook geskenkies as deel van die partytjiepret uitgeruil.

Saterdagaand was een van die hoogtepunte die heerlike ete en prysuitdeling wat met musikale vermaak gepaard gegaan het.

Die deelnemers en organiseerders het so lekker tydens die laaste aand gekuier, dat die meeste van hulle eers in die vroeë oggendure bedwaarts gekeer het.

Joao Richards en haar span van Mbombela het geseëvier, met Johan du Preez se span van Britz in die tweede plek en Pieter Cronjé en sy span van Reitz, derde.

Stephen Venter, een van die organiseerders, sê die toernooi was ‘n reusesukses en dat hulle lyste vir volgende jaar al byna weer vol is.

READ: Local bowls pair win regional competition

Die Malelane Rolbalklub, wat spog met baie vaardige spelers, kuier en oefen op Woensdagaande en Saterdagmiddae. Die klub vier hierdie jaar hulle 50ste bestaansjaar en beplan om dit later vanjaar tydens ‘n spesiale geleentheid behoorlik te vier.

Belangstellendes van enige ouderdom is welkom om by hulle aan te sluit.

Vir meer inligting, skakel Piet Smith by 083-564-3025 of Stephen Venter by 082-451-1715.

Loer hier na nog foto’s van die toernooi.

  AUTHOR
Retha Nel

Latest News

COMMENTS

Top
Next Story x
Athletics club promotes fitness with spring run