Gholfspelers slaan af ten bate van dogtertjie

JP Jansen

Sowat 50 inwoners van die Onderberg, Pretoria en selfs Mosambiek het Saterdag aan ‘n gesellige gholfdag deelgeneem en gehelp om ‘n verskil aan ‘n klein dogtertjie se lewe te maak.

Die vierjarige Lyonell Coetzee is met spastiese dubbelsydige serebrale verlamming gediagnoseer en moet gereeld duur behandelings ondergaan om haar lewensgehalte te verbeter.

Die spesiale fondsinsameling gaan help om Lyonell se deurlopende mediese kostes te dek.

Spelers wat van ver gekom het was baie beïndruk met Malelane Gholfklub se pragtige maar nietemin uitdagende baan, sowel as die gasvryheid en heerlike kos.

Die formaat was individuele Stableford en spelers moes dus alles uithaal om as die beste gekroon te word. Tydens die prysuitdeling is Ricky Coetsee as die wenner aangewys.

Daar was ‘n verskeidenheid interessante pryse op die spel – van ‘n karton lemoene en ‘n versapper tot gereedskap en ‘n verkyker. Ekstra geld is ook voor die prysuitdeling tydens ‘n veiling ingesamel, met gesogte items soos ‘n rugbybal deur ‘n Springbok geteken, en vakansies in Durban en Clarens op die lys.

Lyonell het later die middag ‘n ekstra bederf in die vorm van ‘n vliegtuigrit geniet. Sy het saam met een van die vlieëniers wat aan die SA Kunsvliegkampioenskappe deelgeneem het, oor die dorp gevlieg en was oorstelp van opgewondenheid.

Die Coetzee-familie bedank graag elke speler, borg, helper, familielid en vriend wat die dag vir Lyonell ‘n sukses gemaak het. “Sy het dit baie geniet en selfs ook aan ‘n chipping-kompetisie deelgeneem.

“Dit was ‘n besonderse dag gewees en ons was baie dankbaar om te sien hoe plaaslike mense en spelers van ver hande gevat het om haar te ondersteun,” het haar ma, Esmerie gesê.

  AUTHOR
xxxx

Latest News

COMMENTS

Top
Next Story x
Communities urged to help curb rhino poaching