Gemeenskapslede betoog om geregtigheid in verkragtingsaak

Betogers het verlede Dinsdagoggend deur die strate van Komatipoort na die hof geloop om hul stemme te laat hoor in 'n verkragtingsaak.

KOMATIPOORT – ‘n Groepie gemeenskapslede van Marlothpark het verlede Dinsdagoggend by die plaaslike hof vir geregtigheid in die saak teen beweerde misdadiger, Philip Mathonsi, betoog.

Hy is een van ses verdagtes wat na bewering oor ‘n tydperk van ongeveer ‘n jaar vroue in Marlothpark aangeval, besteel en in sommige gevalle verkrag het. Vyf van die ses verdagtes, is reeds positief in ‘n uitkenningsparade geïdentifiseer.

READ: Woman assaulted in her Marloth Park home

Mathonsi staan in die beskuldigdebank vir drie sake van roof en verkragting en DNS-toetse het hom daarmee verbind. Daar is nog ‘n DNS-uitslag uitstaande vir ‘n aanklag van poging to moord.

Daar was ‘n lang vertraging in die hofverrigtinge aangesien daar nie ‘n stenograaf was nie en een van Tonga af moes kom.

Die saak teen Mathonsi is tot 4 Augustus uitgestel, wanneer die laaste DNS-toets se uitslag bekend sal wees.

Sedert Mathonsi in Februarie in hegtenis geneem en in aanhouding is, het die dorp se misdaadsyfer drasties gedaal.

Daar is sedertdien net diefstal van ‘n TV en beskadiging van eiendom aangemeld en daar word vermoed dat die misdade gepleeg is om die reaksie van die sekuriteit in die park te toets. By geleentheid is ‘n venster gebreek en beddegoed met ‘n lang paal of stok verwyder.

READ: Marloth residents cautioned to be more vigilant

Sommige van die betogers in Dinsdag se optog was ook slagoffers van die misdaad wat Marlothpark geteister het. Een vrou het vertel dat dit goed gaan onder die omstandighede, maar dat sy onlangs ‘n terugslag gehad het. ‘n Ander, wat oorspronklik van Kanada was en vir vier jaar in Marlothpark gebly het, was so getraumatiseerd dat sy na haar land van herkoms teruggekeer het.

Van die slagoffers woon ook kunsterapieklasse deur plaaslike DA-raadslid Mariette Preddy, by. Sy het ook aan die optog deelgeneem.

  AUTHOR
Chrissie du Preez

Latest News

COMMENTS

Top
Next Story x
School shocked and puzzled over learner’s suicide