Sanger bring boodskap van hoop vir leerders

Braam van Dyk en Jean Roux gebruik die kans om 'n selfie saam met Anais te neem.

KOMATIPOORT – Daar is baie druk op jongmense en dit veroorsaak dat die selfdoodsyfer onder hulle toeneem.

Anaïs, bekende sangeres, TV-aanbieder op TBN Africa en stigter van die Be Your Dream-projek, het Vrydag leerders van Komatipoort Akademie bemoedig en geïnspireer.

Die skool is deur Innibos genomineer vir dié spesiale gratis vertoning ter waarde van sowat R46 000.

Anaïs is ook ‘n ambassadeur van LifeLine en skep deur middel van musiek en haar getuienis, ‘n sin van hoop by die kinders en motiveer hulle om hul drome te bereik. Sy, haar orkes en televisieproduksiespan bereik omtrent 12 000 jongmense per maand tydens uitreike.

Be Your Dream se doel is om ‘n generasie van dromers, entrepreneurs en gelowiges te skep. In 2015 het hulle reeds 90 studiebeurse aan leerders toegeken en een van Komati se gr. 12’s staan ook ‘n kans om een te kry.

Daar is Vrydag onderhoude met die leerders en skoolhoof gevoer en die suksesvolle kandidaat sal tydens Innibos aangekondig word.

‘n Paar leerders het ook by Anaïs se optrede musiek-DVD’s en Innibos-kaartjies gewen.

Die optrede is verfilm en sal op TBN Africa as deel van die Be Your Dream-program uitgesaai word.

Leerders het die LifeLine-nommer (0861-322-322) geleer en is aangemoedig om dit te eniger tyd wanneer hulle alleen en depressief voel of in ‘n krisis is, te skakel. “Ons almal het drome wat ons wil bereik. Soms kom ons probleme teë, wat ons keer. Jy is nie alleen nie. Daar is mense wat weet hoe jy voel en omgee,” het Anaïs gesê.

Sy het vertel dat sy op laerskool gespot en geboelie is oor haar droom om ‘n sangeres te word. “Ek was oukei daarmee, want Jesus Christus het my geleer dat dit nie saak maak wat ander dink nie. ‘Hulle ken jou nie soos Ek jou ken nie’. Hou net jou oë op Hom, werk hard en jou droom sal waar word. Moenie dat mense jou oorreed dat jy dit nooit sal kan doen of dat jou omstandighede jou terughou nie.

“My God kan dit verander, niks is vir Hom onmoontlik nie.”

  AUTHOR
Chrissie du Preez

Latest News

COMMENTS

Top
Next Story x
Family shares their intimate moment