Klets met Katrien: As vandag jou laaste dag was

As kinders het ons altyd gesê “as ek eendag groot is” en “as ek eendag oud is” dan wil ons sekere dinge doen. Daar is mense wat nooit by daardie dag uitkom nie, bloot omdat hulle lewens ander draaie met hulle loop of dit kortgeknip word as gevolg van ander.

Mense sê spyt kom te laat. Soms ja.

Wat sal jy doen as vandag jou laaste dag is? In my geval sal ek maak soos in Juanita du Plessis se liedjie –  Ek sal my mense na aan my ‘n bietjie langer vashou, ek sal almal meer liefhê, ek sal vergewe, ek sal help.

Elke dag staan ons op en sien die wonderlike skepping daar buite. Wanneer laas het jy uitgeloop en net gaan stilstaan en gekyk na die blomme en lug en gras en geluister na al die geluide wat ‘n nuwe dag bring? Wanneer laas het jy vir iemand gesê ek is lief vir jou en dit bedoel?

Ons jaag tyd en geld en goed wat eintlik nooit ons s’n sal wees nie.

Die reis van jou geboorte tot jou oudag voel lank, maar in ‘n oogwink kan alles verander.

‘n Wens wat ek nou al lank koester is om na ‘n deftige aandbal toe te gaan sodat ek een van daardie asemrowende rokke kan dra en vir een aand iemand anders kan wees. ‘n Ander is om in ‘n limosine te ry, al is dit net om die blok.

Daar is so baie dinge wat ‘n mens nog wil doen en soms is daar net nie genoeg tyd in die dag of in die lewe nie.

Baie van ons het nie juis ‘n ander keuse as om heeldag en aldag te moet werk net om kop-bo-water te hou nie. Ek verstaan dit. Maar maak tyd. Al is dit net een minuut uit jou dag. Kom uit by jou lewe. Kom uit by jou mense. Kom uit by jou kinders.

As ek net een dag oor het, sal ek dit graag met my kinders wil deel. Ek wil vir hulle die tyd teruggee wat van ons ontneem is. Ek sal ‘n ete maak en almal nooi wat nie kos het nie. Tyd is die kosbaarste geskenk wat jy ooit vir iemand kan gee.

Wat sal jy doen met jou laaste dag?

Latest News

COMMENTS

Top
Next Story x
KLETS MET KATRIEN: Die wonder van musiek