Sonder brandstof op Middelpos

Daar is nie veel in Middelpos nie. 'n Ou poskantoor, hotel, kafee en outydse petrolpompe.

Die Karoo se dorheid het nog nooit ‘n vreeslike bekoring vir my ingehou nie, maar ek het tydens in ‘n gesinsvakansie in Februarie 2015 besef dat die mense daar werklik ‘n besonderse spesie is.

Dit was ‘n snikhete dag en ek was bly vir die verkoeler in die bakkie. Ons het die vorige aand op Sutherland oorgeslaap in ‘n oulike gastehuis, ‘n draai by die Sterrewag en toe aan Karoo-kos by die plaaslike hotel (wat soos iets uit ‘n ou Afrikaanse roman was) gesmul.

“As julle nie ‘n vulstasie sien nie, kan ons in Middelpos brandstof ingooi,” het my pa gesê toe ons die oggend vertrek. Ek dink ons het net ‘n verdwaalde petrolpomp gesien en toe maar besluit om ons kanse op Middelpos te waag.

Karoo landskap (Custom)

Die Karoo-landskap het ‘n eiesoortige bekoring.

My pa het besluit ons moet gaan kyk of sy laerskool-koshuis nog staan, voordat ons deur die Ganaga-pas en Tankwa Karoo National Park na die familie naby Clanwilliam koers kry.

Met Rsg wat ons geselskap hou en my pa wat vertel oor die omgewing en sy kleintyd hier, het die tyd vinnig verbygevlieg. Ek het kort-kort foto’s van die pragtige landskap geneem en my foon weer uitgepluk om die koshuis (wat steeds in gebruik is) af te neem.

Toe ons langs die outydse petrolpompe te staan kom is daar nie ‘n siel in sig nie.

Die dorpie bestaan net uit ‘n poskantoor, winkeltjie, ‘n hotel en ‘n paar huise, maar my pa wil ons die Engelsmanne se graf wys.

My pa spoor eers iemand in ‘n kantoortjie naby die brandstofpompe op en hy deel ons mee dat Middelpos tans onder beurtkrag deurloop. Dus sal ons nie hier brandstof kan kry nie. Dalk as ons ‘n rukkie wag kom die krag weer aan? sê-vra hy.

Beurtkrag. In ‘n dorpie in die middel van êrens en nêrens. Ek is verstom. Ek kan nie glo dat die paar huise in die omgewing veel verskil aan die netwerk kan maak nie.

Ons besluit om straat-af te stap, by die winkeltjie in te loer.

Die monument aan gevalle Britse soldate is so half-versteek en ons beland in iemand se agterplaas in ons soeke daarna, bestudeer dit vinnig en laat spaander weer.

'n Massagraf vir Britse soldate.

‘n Massagraf vir Britse soldate.

Nee, die krag is steeds nie aan nie en ons moet in die pad val, want ons wil voor donker deur die bergpasse op ons roete wees.

Die dorpenaar krap effe kop en bied dan aan om sy trekker leeg te tap sodat ons darem genoeg het om die plaas en Clanwilliam te haal. “Ek kan mos dan net weer ingooi as die krag aangaan,” meen hy.

Ek lag stilleweg, verkneukel my oor die situasie.

Ons word aangeraai om by Ganaga Lodge te stop vir ete. Daar nie ander kafee of eetplek tussen Middelpos en ons bestemming nie. Daar’s net roomkaas, soutkoekies en provitas in die koelsak oor.

Die dorpenaar groet ons met ‘n glimlag en ‘n wuif.

‘n Paar plaashekke en grondpaadjies later is ons by die Lodge. Net om by die eienaar te hoor hulle krag is ook af.

Ons vier toe maar die Middelpos-inwoner se gasvryheid met ‘n paar Niknaks en provitas.

  AUTHOR
Retha Nel

Latest News

COMMENTS

Top
Recommended Story x
Do South Africans really care about the history behind our public holidays?