Nog strenger waterbeheer in Onderberg toegepas

MALALANE – Nog strenger waterbeperkings is dié week deur die Krokodilrivier Hoofbesproeiingsraad ingestel.

Boere mag nou net 20 persent van hulle normale kwotas gebruik. Die belangrikste waterbron van die Krokodilrivierstelsel, die Kwenadam, is tans net sowat 60,5 persent vol en net 3,5 kubieke meter per sekonde word tans deurgelaat.

Beperkings op ander riviere is ook ingestel wat wissel van 40 tot 60 persent, sê me. Ronel Putter, sekretaris van die besproeiingsraad. ‘n Kennisgewing wat Maandag aan alle verbruikers uit die rivier uitgereik is, lui as volg: “Hiermee word die SMS van vanoggend bevestig: Onttrekking toegelaat is 40 uur/week (33,33 persent). Maksimum onttrekking op ‘n dag is agt uur/dag of 20 persent van u volume vir die week. Geen onttrekking vanaf 12:00 Vrydag

8 Januarie 2016 tot 06:00 Maandag 11 Januarie. Besproeiers word vriendelik maar dringend versoek om gehoor te gee aan hierdie reëlings.

Onttrekking buite hierdie reëlings sal opgevolg word en sodanige besproeiers sal verplig wees om die water onmiddellik terug te gee aan die sisteem en ‘n boete-stelsel sal oorweeg word.”

Boere moet hulle gebruiksvolume vir die week elke Maandag deurskakel na die besproeiingsraad se kantoor op Malalane by 079-388-5555. Die damvlakke teen Maandag was as volg: Da Gamadam: 59,53%, Witklipdam: 49,87%, Longmeredam: 70,71%, Klipkopjedam: 59,12%, Primkopdam: 25,11% en die Kwenadam: 60,28%.

Die Magugadam in Swaziland in die Komatirivier het teen laat Desember op 41,70% gestaan. Ook rondom Kersfees in Desember was die Driekoppiesdam op 56,80%, die Nooitgedachtdam op 63,17% en die Vygeboomdam op 76,29%. Volgens die weerburo word reën oor die gebied eers teen komende Maandag verwag. Intussen heers daar ‘n kwaai hittegolf wat teen die naweek behoort te lig.

  AUTHOR
Marius Bakkes

Latest News

COMMENTS

Top
Next Story x
Lanies se sportspanne slyp hulle vaardighede vir die nuwe seisoen