Reën bring nog min verligting vir boere

Barend Marais van Komatipoort het ook kom kyk na die klein vissies wat nou in die modderpoele agter die keerwal by die N4 uitgetrek word. Hier staan hy met 'n klein tiervissie wat nooit trofeestatus sal haal nie.

MALALANE – Boere langs die Krokodilrivier mag tans net 42 persent van hulle normale kwota besproeiingswater onttrek.

Die afgelope dae se reën was steeds te min om ‘n wesenlike bydrae te maak, sê Ronelle Putter, sekretaris van die Krokodilrivier Hoofbesproeiingsraad op die dorp. Moontlik help dit net om in te haal waar boere op hul huidige kwota agtergeraak het. Tussen nege en 18 millimeter is op plekke gemeet.

Putter sê al die sytakke het nou bykans tot stilstand gekom. Die grootste bydraer is gewoonlik die Elandsrivier wat naby Montrose by die Krokodilrivier aansluit.

Dit het die week maar agt kubieke meter water per sekonde gelewer, terwyl die Houtbosloop wat by Rivulets by die Krokodilrivier aansluit, ‘n skamele vier kubieke meter bygedra het. Die ander sytakke wat ook normaalweg groot bydraes maak, is die Nelsrivier en die Kaaprivier.

Hierdie twee maak tans feitlik geen bydrae nie. Putter sê die belangrikste skakel is die Kwenadam wat dié week 67 persent vol was. Hier word sewe kubieke meter water per sekonde uitgelaat om aan die beperkte behoefte laer af te voorsien. Hierdie maatreëls kan moontlik binnekort verander, aangesien daar aanbeveel word dat die uitlaat by die Kwenadam verminder word om vir die langtermynbedryfsreëls voorsiening te maak. Verdere reën, soos voorspel vir hierdie week, sal bepaal wat die finale besluit gaan wees.

Die toestand van die Komati- rivier lyk beter. Mnr. Willie du Toit wat as raadgewende ingenieur vir die Krokodil-, Lomatie- en Komatirivier-besproeingrade werk, sê boere geniet nog hulle volle kwota. As die reën nou oor die volgende twee maande volhou, kan daar volgens beplanning water gelewer word. So nie, mag dit aanstaande jaar beperkings bring. Kommer oor die opstoot agter die keerwal by die N4 in Komati-poort wat tans droog is, is onnodig, sê Du Toit. Onderhoud aan die damuitlate word tans gedoen. Die min reën van die afgelope tyd het darem bygedra om dit makliker te maak om die slik by die beheerkrane te verwyder.

Een van die kleppe was beskadig en is intussen verwyder en word tans vervang. Die werk sal sowat twee weke duur. Intussen vloei daar sowat 1,3 kubieke meter per sekonde deur die opening. Dit is net ‘n bietjie meer as die kwota wat na Mosambiek moet gaan. Komatipoort kry ook ‘n entjie ondertoe by die laagwaterbrug sy water.

Klein vissies wat in die kuile agtergebly het word nou deur vissermanne met nette verwyder. Dis onseker watter uitwerking dit op die visbevolking hier gaan hê, indien enige.

  AUTHOR
Marius Bakkes

Latest News

COMMENTS

Top
Next Story x
Dedicated pupils beat the odds to win prestigious scholarships