Gaan loop ‘n rukkie in iemand anders se skoene

Sangers Bobby en Karlien van Jaarsveld het baie kykers geboei toe hulle tydens hul televisieprogram, In jou skoene, ‘n kans gehad het om twee dae in die lewe van iemand anders te beleef.

Hulle het begin deur die Abraham Kriel Kinderhuis besoek. Hulle moes vir twee dae daar bly, eet, slaap, skoolgaan en deel in die kinders se alledaagse doen-en-late.

Dit was groot pret om hulle in skoolklere te sien. Karlien wou nie sonder haar grimering nie en Bobby het skoon stout gelyk. Die tweetjies moes ook saam met die kinders skool toe loop, wat ‘n hele ent was.

Tydens ‘n braai die een aand, het Bobby en Karlien die kans gekry om met die kinders te gesels oor hoekom hulle daar in die kinderhuis is. Baie van hul stories het die tweetjies in trane gehad.

Baie van die kinders in die kinderhuis weet nie hoekom hulle daar is nie, sommige wil weer graag hulle ouers sien en by hulle bly ten spyte van wat hulle aan die kinders gedoen het en ander geniet lewe in die kinderhuis en wil nooit weer hulle ouers in hulle lewens toelaat nie.

Bobby het op ‘n keer by Vernon Barnard, die blinde outjie wat aan The Voice SA deelgeneem het, gaan kuier. Hier het Bobby vir twee dae beleef hoe dit voel om blind te wees deur ‘n spesiale bril te dra.

Die sanger was baie gefrustreerd en kon nie eers optree nie.

Sommige sê dis beter om blind gebore te word as om, soos Vernon, later in jou lewe blind te word. Albei klink vir my erg.

Die Van Jaarsvelds het ook ‘n draai in Danville gaan maak en onder die armstes in die area gaan woon.  Alhoewel die inwoners huise het, het hulle nie elektrisiteit nie en die minimum kos.

Bobby en Karlien het elk R50 gehad waarmee hulle kos vir twee dae moes koop. Twee dae. Wat eet jy vir R50?

Hulle monde het oopgehang toe hulle sien wat kospryse is en kon nie dink hoe die mense dit regkry nie. Die mense moet egter ‘n manier kry om kos vir hulle en hulle kindertjies op die tafel te sit. Baie mense het in dieselfde situasie grootgeword en geleer dat jy met min of niks moet klaarkom.

Die sangers het ook saam met die Bikers for Mandela Day gaan ry en ‘n huis in Germiston besoek. Hier bly ‘n ouerpaar wat, ten spyte van ‘n klein inkomste, na weggooibabas omsien.

Daar is ‘n gleuf in die muur waar vrouens en meisies hulle babas kan insit as hulle nie na die baba kan of wil omsien nie.

Bobby en Karlien het nog ‘n paar aangrypende uitdagings gehad en vertel dat hulle so baie daaruit geleer het. Van die lesse was: om te waardeer wat hulle het, om nie neer te kyk op ander mense nie (want dinge wat jy as belangrik beskou kan enige oomblik weggevat word) en om elke dag te doen wat jy kan om ander te help.

By die kafee in my straat sit ‘n man in ‘n rolstoel en maak skoene reg. Ek wil met hom gaan gesels en sal dan sy storie met julle deel.

Ken jy iemand wat dit nie so sterk en welaf in die lewe het nie? Loop jy ook by mense op straat verby en dink hulle is so en so en jy moenie met hulle meng nie? Hulle het almal n storie.

Doen jouself ‘n guns en staan stil by hulle, dan sal jy sien dat hulle ook eenmaal was waar jy is. Loop in ander se skoene – of dit nou klein of groot is en of dit ‘n klipperige pad is.  Ons word te veel beïnvloed deur ras en kleur en politieke stand en finansiele posisie. Stop eerder en dink : WWJD – What Would Jesus Do?

Latest News

COMMENTS

Top
Next Story x
KLETS MET KATRIEN: Padkos vir die siel