Plaaslike atlete verwerf medaljes by distrikte- en interlaerbyeenkomste

Laerskool Malelane spankapteins Khaya Sengwayo en Zonke Nkosi lei leerlinge om die veld tydens die Panorama Interlaer.

Verskeie plaaslike atlete se staal gaan Saterdag by die Mpumalanga-byeenkoms in Ermelo getoets word nadat hulle tydens die distriktebyeenkoms vir die Ehlanzeni-span gekies is. Kyk hier na foto’s van die byeenkoms.

Laerskool Malelane het verlede Dinsdag die laerskole-distriktebyeenkoms aangebied, met die beste atlete van skole soos Riverview Prep, Skukuza Primary en Uplands College wat meegeding het vir ‘n kans om provinsiaal deel te neem.

Verskeie Lanies het vir die distrikspan gekwalifiseer: Siyavuyo Mnisi (100m en 70m-hekkies seuns o/10), Andile Mayisa (70m- hekkies vir seuns o/10), Khaya Sengwayo (80m-hekkies en 200m seuns o/13), Hopewell Khoza (80m-hekkies en verspring seuns o/13), Hope Madonsela (100m, 150m en hoogspring meisies o/12) en Zonke Nkosi (hoogspring meisie o/13).

Vier van Riverview Prep se atlete gaan ook poog om provinsiale kleure te verwerf: Kyle Dehrmann vir 100m, Daniel Sassenberg vir 1 200m, Caitlin Dehrmann vir hoogspring en Sophia Clarke vir hekkies.

Saterdag het Laerskool Malelane 14 goue, 17 silwer en 7 brons medaljes medaljes by die Panorama Interlaer op Hoërskool Lydenburg se sportveld verwerf. Steelpoort Akademie het dit aangebied en Laerskool Burgersfort, Sabie, Numbi, Graskop en Komatipoort Akademie het meegeding.
Swaar reën het egter veroorsaak dat die byeenkoms voor die aflosse gestaak moes word.

Hope Madonsela van Laerskool Malelane het verskeie medaljes verwerf.

Onder die Lanies se uitblinkers was Cilliers van Heerden wat ‘n nuwe rekord vir 75m hekkies vir seuns o/12 opgestel het, Kaya Sengwayo wat as beste seuns-hekkiesatleet gekies is, Hope Madonsela wat senior victrix ludorum en beste naelloper van die dag (meisies) was en die o/9 seuns wat ‘n goue medalje vir hul aflositem gewen het.

Laerskool Malelane het tweede geeïndig, met Steelpoort as die kampioene. Die Prestasie-trofee is ook aan die Lanies toegeken.
Die Lanies bedank die personeel van Steelpoort wat so hard gewerk het om die byeenkoms besonders te maak.

Latest News

COMMENTS

Top
Recommended Story x
Veteraan-atleet verwerf weer goue medaljes